Suid-Afrika loop sy eie kernpaadjie

Image

Buyelwa Sonjica

Suid-Afrika het besluit om voorlopig nie deel uit te maak van die VSA se projek om kernkrag te versprei en te monitor nie, aangesien die land nie sy reg wil opgee om uraan te kan verryk nie.

Buyelwa Sonjica, minister van mineraal-en energiesake, het gister tydens ’n perskonferensie na afloop van die Verenigde Nasies se Atoomkragagentskapvergadering in Wene gesê dat Suid-Afrika ’n uitnodiging ontvang het om deel uit te maak van die Globale Kernenergievennootskap, maar dit nie aanvaar het nie, aangesien so ’n stap nasionale kernkragbeleid in die wiele kan ry. Ingevolge hierdie VSA-inisiatief sal state gehelp word om kernbrandstof te bekom en hoef hulle dus nie hulle eie uraan te produseer nie. Kernkrag word sodoende versprei, maar nie die tegnologie waarmee wapens vervaardig kan word nie.

Elf lande het Sondag lede van die projek geword tydens die byeenkoms in Wene. Hulle is Australië, Bulgarye, Ghana, Hongarye, Jordanië, Kazakstan, Litaue, Pole, Roemenië, Slovenië, en Oekraïne. China, Frankryk, Japan en Rusland is reeds lede.

Sonjica glo dat om uraan uit te voer vir verrykingsdoeleindes en dit dan her in te voer nie sin maak nie. “Dit sal in konflik staan met ons nasionale beleid,” meen sy.

Will Tobey van die VSA het aanvanklik beklemtoon dat geen land gevra word om sy reg om uraan te verryk op te gee nie. Hy is verantwoordelik vir nie-proliferasie aangeleenthede in die VSA se nasionale kernveiligheidsadministrasie. Hy het egter later erken ”dat dit nie sin sal maak om beide te doen nie” – met ander woorde dat ’n land aansluit by die Globale Kernenergievennootskap en steeds voortgaan om sy eie uraan te verryk. Hy meen dit is wel voordelig vir lande om deel uit te maak van hierdie vennootskap, aangesien uraanverryking ’n baie duur proses is.

Volgens Sonjica is Suid-Afrika nou op soek na internasionale vennote wat die land in sy uraanverrykingsprogram kan bystaan.

двухпоршневой ценаОлександр Фільчаков прокурор