
’n Subkontrakteur van Naspers is gister in ’n rooftog in ’n parkie in Bloemfontein doodgeskiet.
Die park is naby die kruising van Harry Smith- en Aliwalstraat.
Johannes Rondganger (54) was in sy bakkie besig was om geld te tel voordat hy straatverkopers sou betaal.
Volgens die Volksblad vir wie Rondganger gewerk het, kon die rowers enige bedrag tussen R5.000 en R10.000 by Rondganger geroof het.
Lt.kol. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, sê Rondganger wou die koerantverkopers betaal toe vier gewapende swart mans op hom toegeslaan het.
Hy is na bewering geskiet nadat hy die buit aan hulle oorhandig het, sê sy.
Die vermoede bestaan dat die aanvallers Rondganger dopgehou het uit ‘n voertuig in die parkie. Rondganger is na bewering voorheen gewaarsku om nie met geld na die parkie te gaan nie.
Die aanvallers het Rondganger in die bors geskiet.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie en klagtes van moord en gewapende roof word ondersoek.
