Swart studente raak gewelddadig oor hulpgeldtekort

tutDie uitvoerende hoof van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema, NSFAS, Msulwa Daca, sê hulle beskik nie oor die nodige begroting om alle studente van hulp te wees nie.

Dié uitspraak kom nadat swart studente gewelddadig geraak het oor ‘n tekort aan hulpgeld.

Hy sê hoewel die fonds aangevul is, is dit steeds nie genoeg om al die studente te help wat aansoek gedoen het nie.

Die fonds het van R3,1 miljard in 2009 tot R9,7 miljard in 2014 gegroei.

Daca sê selfs privaatinstansies is reeds genader vir bydraes tot studentehulp.

‘n Vlaag studentebetogings by tersiêre instellings, hoofsaaklik oor befondsing, het op plekke tot geweld gelei. Weens die geweld is veiligheid by talle kampusse opgeskerp en die registrasieperiode vir aansoeke is verleng.

Die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, het ontevrede studente gemaan om eerder met die universiteit se bestuur in gesprek te tree, as om gewelddadig te raak.

Nzimande het die Durbanse Universiteit van Tegnologie besoek om met die bestuur en studenteverteenwoordigers te praat om hulle verskille te probeer bylê.

Lesings is verlede week onbepaald opgeskort nadat die studentebetogings daar in geweld ontaard het.

Die oproer by Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) het bedaar en kampusse sal weer heropen hierdie week, het die instelling Maandag gesê.

Klasse sal na verwagting voortgaan Woensdag, nadat oproerige studente verlede week geskors is, het Willa de Ruyter, woordvoerder, gesê.

Nzimande het studente ook gewaarsku om hulle daarvan te weerhou om lesings te ontwrig en universiteitseiendom te beskadig.