Spinnekopsy of klipmosseltande?

Spinnekopsy mag dalk sy aanspraak verloor dat dit die sterkste natuurlike materiaal bekend aan die mensdom is, nadat wetenskaplikes bevind het dat die tande van klipmossels nóg sterker is, het Reuters berig.

Spinnekopsy word hoog geag deur wetenskaplikes op grond van sy krag en struktuur, maar wetenskaplikes in Brittanje het vasgestel dat klipmossels se tande se struktuur só sterk is dat dit met groot welslae nageboots kan word.

Dié soort struktuur kan gebruik word om F1-renvoertuie, bote en vliegtuie te vervaardig.

Die span het die gedetailleerde meganiese gedrag van die tande uit klipmossels met atoomdrukmikroskopie ondersoek, ‘n metode wat gebruik word om materiaal tot op die vlak van die atoom uit te pluis.

Hulle het gevind dat die tande ‘n harde mineraal bekend as goethiet bevat.

Die navorsing is Woensdag in die wetenskaplike joernaal, Interface gepubliseer.

Klipmossels se supertande moet oor rotsoppervlaktes rasper en alge vir voeding afskraap wanneer die gety in is.

Navorsers het ontdek dat die vesel van goethiet net die regte grootte is om ‘n sterk saamgestelde struktuur te bou.