Standaardtarief vir doktersbesoeke bekyk

Die Raad op Gesondheidsfinansiers vra dat ‘n standaardtarief vir gesondheidsorg ingestel word om stygende mediese kostes aan bande te lê, het RSG berig.

Die Raad het gereageer op kommer dat ‘n toenemende aantal dokters kontant van pasiënte vereis voor hulle behandeling ontvang. In talle gevalle is dié bedrag meer as wat mediese fondse betaal.

In 2004 het die Mededingingskommissie beslis dat dit sameswerende gedrag is om standaardtariewe vir dokters in privaat praktyke voor te skryf.

‘n Woordvoerder van die RGF, Heidi Kruger sê omdat daar nie ‘n standaardtarief is nie, het mediese fondse ‘n groot aanspreeklikheid en die verbruiker moet uiteindelik hoër premies betaal.

Die Raad op Mediese Skemas het intussen pasiënte aangeraai om met dokters te onderhandel indien hulle voel dat tariewe buitensporig is.

Die raad het ook mense aangemoedig om ‘n dokter te soek wat billike tariewe vra.

‘n Woordvoerder, Clayston Swart sê mediese fondse onderhandel tariewe met voorkeur-verskaffers.

Mediese fondse het egter min beheer oor tariewe wat dokters hef wat nie op hul databasis is nie.