‘n Selfmoordbomaanvaller op ‘n motorfiets (foto hierbo) het homself die week buite ‘n Indonesiese polisiekantoor opgeblaas.
‘n Polisiebeampte is beseer in die aanval wat amptenare aan die Islamitiese Staat (ISIS) verbind, het AFP berig.
Die aanval in die stad Solo, in die land se radikale hartland en die tuisdorp van pres. Joko Widodo, was op die vooraand van die Eid-vakansiedag, wat ’n afsluiting van die Moslem heilige maand, Ramadaan, is.
Volgens die polisie is die aanvaller deel van ’n netwerk wat opgelei is deur Bahrun Naim, ‘n Indonesiese militant wat vir ISIS in Sirië veg.
Die aanvaller het daarin geslaag om verby ‘n wagpos tot binne die perseel van die polisiehoofkantoor te vorder. Hy het Islamitiese verse opgesê voordat hy homself opgeblaas het.
