Luukse motors en luukse hotelverblyf vir ministers, maar paaie met slaggate besaai.
Troppe blouligboelies maar ‘n gebrekkige kapasiteit by die president se inbelsentrum.
Hierdie is maar twee voorbeelde van op die oog af swak prioritisering, maar met die gemeenskaplike kenmerk dat ‘n bykans onaantasbare elite soos ‘n eietydse adelstand ontwikkel, met die breë gemeenskap wat met goedkoop beloftes en sentimente as stemvee ingespan word.
Die inkomstegaping groei inderdaad, en is volgens verskeie monitors die hoogste onder die wêreldekonomieë wat op die Giniskaal gemeet kan word.
Prag en praal te midde van, en selfs ten koste van die welvaart van die omgewing is een ding, maar om dié prag en praal statuur te gee deur onverdiende status daaraan te gee, iets anders.
Een van die maniere om status te verleen is die gebruik van titels soos “Excellency”, “your worship” en “honourable” selfs buite die forums waar die konvensie geld, bykans twee dekades na dit afgeskaf is.
Soos rykes in vervloë tyd skares gehuur het om by begrafnisse ‘n geweeklaag te kom aanhef, word die eietydse Mandaryne ook status ingepomp deur allerlei soort personeel, soos klein weermaggies wat dié BBP’s moet beskerm. Selfs Julius Malema, wat geen staatsamp of selfs staatspos beklee nie, word van BBP-beveiliging op belastingbetalerskostes voorsien.
Ongelukkig gedra van hierdie eenhede hulle soos boewe in plaas van soos wetsgehoorsames wat die BBP’s teen misdadigers moet beskerm. Verskeie voorvalle is gerapporteer waar op lede van die publiek geskiet is wat nie vinnig genoeg uit die pad van dié voortsnellende stoete kan kom nie.
Dié boelies gaan egter verder, en begin nou sommer in ander opsigte as wetstoepassers optree, soos om iemand te arresteer wat nie met die president se konvooi beïndruk was nie, en dit getoon het.
Nou het ‘n herrie losgebars nadat die president se boelies ‘n joernalis gearresteer het en die foto’s op sy kamera gewis het.
Hierdie soort optrede trek gou die aandag van persvryheidswaghonde, en sal stellig Suid-Afrika se posisie op die persvryheidsindeks affekteer. Hierdie indeks beïnvloed ook ander indekse soos die korrupsie-persepsie-indeks, en dit weer die beleggersvertroueindeks.
Intussen vermeerder die slaggate, en intussen het die president se befaamde inbelsentrum nie die kapasiteit om eens ‘n fraksie van die oproepe doeltreffend te hanteer nie. Die fakse- en e-pos wat aan dié sentrum gerig word, gaan skynbaar regstreeks in snippermasjiene in.
Dit is daarom nie verbasend dat mense optogte hou oor swak dienslewering nie.
‘n Polisiediens propvol generaals kan maar rubberkoeëls en arrestasies inspan; dit laat nie die skeeftrek van die situasie verdwyn nie.
Miskien is ons nou terug by die era waar ‘n vorige Vrystaatse Premier haar luukse vuurwa geregverdig het deur te sê: “Ons moet met sulke karre ry, want kyk net hoe lyk die paaie.”
As die mense dan nie brood het nie, laat hulle dan koek eet.
