Franse wet verbied skoonheidskompetisies vir dogters onder 16

thylane
Thylane Loubry Blondeau

Die Franse Senaat het ‘n voorstel goedgekeur om skoondheidskompetisies vir meisies jonger as 16 jaar te verbied.

Die voorstel is Dinsdag deur 146 wetgewers gesteun. Slegs een senaatslid het daarteen gestem

Dié wetsontwerp volg na omstredenheid oor modefoto’s van ‘n 10-jarige Franse meisie wat in Desember 2010 in die Vogue-tydskrif verskyn het.

Die meisie, Thylane Loubry Blondeau, en twee ander, was uitgedos in stywe rokkies, hoë hakke, duur juweliersware en swaar gegrimeer.

Vogue het destyds die foto’s verdedig en gesê dit is bloot ‘n uitbeelding van die meeste jong meisies se fantasieë – om soos hul ma’s aan te trek.

Blondeau se ma, ‘n ontwerper wat voorheen ‘n aktrise was,  het verder verontwaardiging veroorsaak deur op haar blog te skryf dat haar “dogter nie naak is nie; moet tog nie alles so uit verband ruk nie.”

Die Vogue-foto’s is nie net in Frankryk nie, maar wêreldwyd gekritiseer. – AFP