Skooldogter deur drie boelies doodgeslaan

schoolDie Gautengse Departement van Onderwys het met ‘n ondersoek na die dood van ‘n agt jarige meisie by ‘n laerskool in Soweto begin.

“Hierdie saak het net gister [Maandag] onder ons aandag gekom,” het Phumla Sekhonyane, woordvoerder gesê.

Die kind is na bewering op 14 Februarie deur drie boelies geskop en geslaan.

Lebohang Makala was mank met haar tuiskoms en haar bene was geswel.

Sy het aan haar ma gesê dat die seuns haar sonder rede aangerand het terwyl sy met ander kinders gespeel het.

Daar was blykbaar nie onderwysers by die Batsogile laerskool toe die voorval gebeur het nie.

Haar ouers het haar na die hospitaal geneem waarna sy weens inwendige bloeding beswyk het.

‘n Saak is gister by die polisie aangemeld. Die departement sê hulle doen ‘n onafhanklike ondersoek na die omstandighede rondom die voorval.