Vroue kan nog nie ANC lei nie

Angie Motshekga
Angie Motshekga

Die tyd is nog nie reg vir ‘n vrou om die ANC te lei nie, het die party se ANC-vroueliga (ANCWL) Maandag gesê.

“Met tyd sal ons vroue-presidente in die ANC hê,” het Sisi Tolashe, hoofsekretaris van die ANCWL, aan joernaliste in Johannesburg gesê.

“As ‘n bevrydingsbeweging sal ons eendag kan vier dat die tyd aangebreek het en niemand sal ooit nee sê wanneer daardie tyd aanbreek nie. Ek dink ons is nou amper daar.”

Tolashe het gesê die ANC het vordering gemaak met vroue in top-posisies.

“Ons is die enigste organisasie in die land en op die kontinent wat erken dat vroue ook leiers kan wees.”

Angie Motshekga, president van die ANCWL, het gesê die liga sal ‘n vergeefse stryd stry “indien hy probeer druk” vir ‘n vroulike president of adjunk.

Motshekga het gesê die vroueliga het verlede jaar op die party se konferensie in Mangaung geweet dat dit ‘n verlore stryd is om vir ‘n vroulike president of adjunk te veg.

Sy het gesê dit beteken egter nie dat vroue in die party nie senior posisies wil beklee nie. – Sapa