
Oneerlike voormalige ANC-jeugligaleiers het die organisasie “drooggemelk”.
“Ons weet vir ’n feit dat die oneerlike voormalige lede wat die organisasie drooggemelk het nou ander selfverrykende skemas in die vorm van nuwe politieke partye begin het,” het die sameroeper van ’n mediakonferensie, Mzwandile Masina, Donderdag aan verslaggewers gesê.
Hy het egter nie uitdruklik verwys na die geskorste jeugligapresident Julius Malema nie.
Die ANC-jeugliga is verlede week voorlopig bankrot verklaar weens agterstallige skuld van sowat R17 miljoen wat die liga glo nie kan betaal nie.
Masina het gesê die liga se skuld kan nog veel meer wees aangesien daar “daagliks” nog rekeninge by hul deur opdaag.
Die liga moet teen 27 Januarie 2014 aan die hooggeregshof in Johannesburg redes verskaf waarom hy nie permanent gelikwideer moet word nie. – Sapa
