Selfmoordaanval op Tiananmenplein vermoed

tianmenDie Chinese regering vermoed ’n voorval Maandag waarin ’n voertuig in voetgangers in Tiananmen-plein geploeg het, was ’n selfmoordaanval.

Vyf mense, onder wie drie insittendes in die voertuig, is dood en minstens 38 mense is beseer, maar geen amptelike aankondiging is nog gemaak oor of dit ’n aanval of ’n ongeluk was nie.

“Dit lyk soos ’n voorafbeplande selfmoordaanval,” het ’n bron met kennis van die saak gesê. Die amptenaar het op voorwaarde van anonimiteit gepraat.

Die saak word nog ondersoek en die identiteit van die drie mense wat in die voertuig was, is nog nie vasgestel nie.

Die polisie in Beijing het laat Maandag gesê hulle is op soek na twee “verdagtes” van Xinjiang. – Reuters