Samuel Tsietsi Msiza, die swarte wat landwyd berug geraak het as die “Tukkie-verkragter”, is ‘n vonnis van altesaam 65 jaar tronkstraf deur landdros Pieter Nel in die Pretoria-Noordse streekhof opgelê.
Die staatsadvokaat Sanet Jacobson het tydens haar betoog gesê: “Ek wens vandag dat ek kon vra vir die doodstraf.” Sy het ook na Msiza verwys as iemand wat nie tot “die spesie mens” behoort nie:
“Die barbaarsheid waartoe hy oorgegaan het, hoort nie eers tot die spesie ‘mens’ nie. Watter soort barbaar kry bevrediging uit seks met ’n sterwende liggaam wat hy 22 keer (met ’n mes) gesteek het? Die hof het gesien hoe fyn en klein die klaagster is. Hy (Msiza) sien die stukkende vernielde lyf, die oop wond oor haar gesig gaap vir hom. En hy besluit hy wil seks met haar hê.”
Die Tukkie-meisie het begin huil toe sy weer haar verkragter in die hof moes aanskou, hy wat haar as jong Christelike maagd ná ‘n Bybelstudiesessie in haar Pretoriase meenthuis op 26 Oktober 22 keer met ‘n mes gesteek en daarna verkrag het terwyl sy besig was om dood te bloei.
Volgens die staatsaanklaer, “is die beskuldigde te lui om te werk en maak ‘n lewe uit ander se besittings waarvoor hulle werk”.
Tydens sy vonnisoplegging het landdros Pieter Nel aan Msiza gesê: “U is skuldig bevind aan ses baie ernstige oortredings. Die foto’s van die klaagster (wat in die hospitaal geneem is) is aanduidend van die gewelddadige en genadelose aanval.
“Haar getuies skets ’n verhaal van ’n absoluut brutale, vernederende aanval.
“Dit het haar lewe en haar voorkoms verander.”
Nie net het Msiza ernstige trauma vir die jong vrou veroorsaak, wat tydens die aanval slegs 20 jaar oud was nie, maar hy het haar en haar gesin ook finansieel skade berokken weens die uitgebreide chirugie wat sy aan haar gesig en haar lyf moes ondergaan.
‘n Verdere verswarende omstandigheid was dat Msiza tydens die verhoor ontsnap het en sodoende gepoog het om aan die verantwoordelikheid vir sy dade te ontkom.
“Die gemeenskap verwag ongetwyfeld van die hof om ’n swaar vonnis op te lê en dat so ’n weersinwekkende misdaad op ’n gepaste wyse gestraf sal word,” het die landdros gesê, alvorens hy hom die volgende strawwe opgelê het:
- Roof met verswarende omstandighede – 15 jaar;
- Poging tot moord – 15 jaar;
- Verkragting – lewenslank;
- Ontsnapping op 28 Oktober 2011 (kort ná sy inhegtenisname weens die aanval op die studente) – 4 jaar; en
- Huisbraak in Rietondale, Pretoria, in November 2011 terwyl hy op vrye voete was – 4 jaar.
Die slagoffer het ná afloop van die verrigtinge gesê:
“Ek is tegelykertyd verlig en oorweldig.
“Ek dink dis ’n regverdige vonnis en ek is bly dit is afgehandel. Ek hoef nie meer hof toe te kom en hom te sien nie.
“Ek dink ek mag dalk ’n bietjie beter slaap.”
Tot dusver ly sy aan slapeloosheid en moet slaappille drink om te kan slaap.
