Sambrele vir ‘n begrafnis

Die mense wat hierdie storie oorgekom het, is vreeslik, maar vreeslik sensitief hieroor. Dus sal ek hulle maar ‘n ander identiteit verskaf.

Soos dit met gesinne gaan, raak ‘n gesin naderhand uit sambrele uit. ‘n Hele Vrystaatse winter maak dit gewoonlik nie saak nie, en as die lentereëns nog wegbly, kom ‘n mens gewoonlik eers die moeilikheid agter as dit die dag bejaarde swart dames met knopkieries reën, en mens iewers heen in die oopte moet gaan.

Oom Anneries en tant Marié sou stellig nog nie die moeilikheid agtergekom het nie, maar ‘n familielid is oorlede, en hoe nader dit aan begrafnistyd kom, hoe meer lyk dit na reën, Vrystaatse winter of te not. Al te dikwels lyk dit of die werklike reën ook net wag vir ‘n groot begrafnis.

Dus, toe hulle by familie in die stad kom, is hulle na ‘n bekende negosiewinkel waar ‘n mens gereeld winskopies kry.

Sambrele ook, spotgoedkoop, en dus word sommer twee geneem.

Terug op die plaas, voor na die begrafnis vertrek word, word die sambrele oopgemaak om te kyk of hulle darem werk, en ‘n mens hul meganismes nou mooi verstaan dat mens nou nie in die triestigheid moet loop staan en sukkel nie.

Die eerste sambreel skiet foutloos oop. Te pragtig, en oom Anneries wonder nog hoe dié gedoente nou so ‘n winskoop kon geraak het. Toe sien hy dit. Mooi groot staan daar “Jomo Cosmos” op geskryf.

So ‘n sambreel mag miskien vir iemand anders by ‘n begrafnis deug, maar nie vir oom Anneries en tant Marië nie.

Boonop was die oorledene nou wel nie ‘n ingeskrewe lid van die Kappiekommando nie, maar al haar simpatie het by dié dames gelê.

Nee, daai sambreel sal nie deug nie.

Half teen sy beterwete is oom Anneries hoopvol met die tweede sambreel se oopmaak. Wat kan immers erger wees?

Maar sommer so met die oopgaanslag pryk die kopbeen, gevolg met Orlando Pirates. ‘n Kopbeen-sambreel by ‘n begrafnis!

“Nôttendêm!” brul oom Anneries en veeg die sambrele van die tafel af. Dan reën hy en die tante liewers dwarsdeur sopnat, tot op sy fondament as dit moet. Ysreën ook as dit daarop aankom. Hy is liewers dood as om met dié sambreel gesien te word.

Kort hierna kry die huishulpe onverwags ‘n geskenkie. Dié twee, so kort voor die Bafana Meksiko die stryd aansê, is al te in hul noppies. Hulle het nie geweet baas Anneries en mies Marié is ook in die “feeling” –gedoente in nie.

Gelukkig, met die begrafnis het dit nie gereën nie. Maar so met die wegtrek by die begraafplaas toe klik-klik die ysreën saam met yskoue reëndruppels op die kar.

магазин детских куколалександр лобановский супермаркет класс