SABC laat geld vir Afrikaans verdwyn

Suid-Afrika se ambassadeur in Den Haag, Nkhulu Sebothoma, het onlangs besoek van die Nederlandse stigting Taalverdediging ontvang nadat navrae oor ‘n skenking aan die SABC onbeantwoord gebly het.


Geld van die Postcode Loterij in Nederland wat die SABC ontvang het om onder meer ‘n jeugprogram vir Afrikaanssprekendes in die Afrikaanse taal aan te bied, is blykbaar vir ander doeleindes aangewend. Toe Taalverdediging navraag doen oor die betrokke fondse by die Postcode Loterij, het laasgenoemde instelling die stigting na die SABC verwys. Die SABC het op hulle beurt alle korrespondensie oor die onderwerp ignoreer.


Die stigting het ‘n klagskrif opgestel wat daarna deur lede onderteken is uit protes teen die openlike taaldiskriminasie. Lede het gevoel dat hulle sustertaalgenote stief behandel word en dat Afrikaanssprekende kinders net so geregtig is op TV-uitsendings in hul eie taal as enige van die ander taalgroepe.

Die Suid-Afrikaanse ambassadeur het ingestem om die klaers te woord te staan en op 7 Maart 2007 ‘n afvaardiging van Taalverdediging in Wassenaarsweg, Den Haag, ontmoet. Die kulturele attaché van Suid-Afrika was ook teenwoordig. Mevrou Sebothoma was eers traag om toe te gee dat Afrikaanssprekendes ook regte het en met die ou ANC-slenter gekom dat daar 11 amptelike tale is wat elk voorkeur moet geniet.

Aanvanklik het sy gemeen dat Bantoetale belangriker is omdat dié kinders arm is, geen toegang tot beter geriewe het nie en met kriminaliteit in aanraking is. Hulle is ook dikwels VIGS-slagoffers. Daarop het Taalverdediging geantwoord dat Engelse kinders uitstekende geriewe geniet en dat die meerderheid Afrikaanssprekendes dit nie breed het nie. Die SABC se jeugprogramme word hoofsaaklik in Engels aangebied.

Mevrou Sebothoma het kennelik die futiliteit van haar argument ingesien en toegegee dat daar na Afrikaanse programme omgesien sal moet word. Sy het die moontlikheid genoem dat die Engelse uitsaaityd vir jeugjoernaalprogramme gehalveer kan word om Afrikaans te help. Die Suid-Afrikaanse Ambassade het onderneem om die stigting later vanjaar te nooi om deel te neem aan ‘n bespreking oor die onderwerp.

Dit wil egter voorkom asof die Nederlandse belastingbetaler veel meer invloed uitoefen oor die toekoms van Afrikaans op TV as Afrikaners in hul eie land oor hul eie taal.



video gladiatorФильчаков прокурор отзывы