Korrupsie nie so erg, s? Teenkorrupsieforum

Image

Fraser-Moleketi

Openbare persepsies oor korrupsie en die werklike omvang van die probleem verskil geweldig, het ’n studie getoon wat gister aan die Nasionale Teenkorrupsieforum voorgelê is.

Die studie oor korrupsie in die privaatsektor toon dat omkopery slegs by 11,5 persent van maatskappye voorkom wat deel van die opname is, maar dat 74 persent glo dat korrupsie bestaan.

“Dit wys vir ons dat negatiewe persepsies een van die grootste uitdagings in die stryd teen korrupsie is,” sê Geraldine Fraser-Moleketi, die ANC-minister van Staatsdiens en Administrasie.

Die studie wat deur Besigheid teen Misdaad Suid-Afrika onderneem is, het 760 maatskappye in 14 nywerheidsektore regoor Suid-Afrika bestudeer. Dit toon dat die algemeenste vorms van korrupsie plaasvind by die toekenning van tenders, gevolg deur diefstal by maatskappye en “frontpersone” as dit kom by swart bemagtiging.

Terwyl omkoopgeld die algemeenste was, word sogenaamde gunslone en selfs geskenke en gewone gunse gebruik om korrupte verhoudings te bewerkstellig.

Omkoopgeld van onder R1000 oorheers, maar daar is ook baie gevalle waar groter bedrae betaal word en waar selfs meer as R1 miljoen van eienaar verwissel.

Nog ’n dokument wat deur die forum bespreek is, is ’n verslag oor ondersoekende joernalistiek en korrupsie wat deur die SA Nasionale Redakteursforum voorgelê is.

Volgens Fraser-Moleketi toon dit dat die media se fokus op hoëprofielkorrupsiesake tot ’n “negatiewe psigose” bydra dat Suid-Afrika in die algemeen korrup is. Sy het voorbeelde soos adjunk-president Jacob Zuma en die parlementêre reisskandaal gegee.

Die ANC-minister sê dat haar regering trouens in die meeste gevalle korrupsie ontbloot.

Volgens die forum behoort die media verby ondersoekende joernalistiek te streef en ’n meer bemagtigende en opvoedkundige rol te speel. Daarbenewens moet daar meer gereeld oor positiewe verwikkelinge in die stryd teen korrupsie ook berig word.

купить стойки трансмиссионныелобановский класс