Suid-Afrika is 'n land wat in 'n oorlog met homself gewikkel is, met korrupte leiers wat misluk in pogings om die probleem van misdaad aan te spreek, het die IVP leier, Mangosuthu Buthelezi Sondag gesê.
Hy het gepraat by die loodsing van die party se verkiesingsmanifes by die Safa-Simbastadium in Pimville, Soweto.
"Misdaad is 'n duidelike voorbeeld van die groot gaping wat daar is tussen wat gesê word en wat gedoen word… Ons het gedink ons het die swakste voorbeeld gesien van hoe sleg die mislukking is om misdaad te beheer, maar niks kon ons voorberei vir die spektakel van die inkriminering van die polisiehoof en die vervolging van die hoof van die vervolgingsgesag se hoof nie, asook die konstante aanvalle op die regstelsel nie."
"Watse hoop het die trop wanneer die skaaphonde mekaar uitmekaar skeur eerder as om die trop op te pas teen die wolwe wat aankom?" het Buthelezi gesê.
Verandering van leierskap, gevolg deur veranderinge in beleid was belangrik om Suid-Afrikaners te red van "die konstante leë beloftes waarmee hulle gebombardeer is" oor die afgelope 15 jaar.
"Die mense van Suid-Afrika kan nie meer langer staatmaak op valse beloftes nie. Ons het nou nodig om 'n verandering in die leierskap te bring wat die morele basis van die land verander van die mense wat gierig, inkompetent en korrup is… na diegene wat verbind is tot verandering, met bekwaamheid en integriteit," het Buthelezi gesê.
Korrupsie, het hy gesê, was een van die belangrike sake wat die regerende party konstant belowe het om op te los, en waarin hulle skouspelagtig misluk het.
