Russe hou ‘Gesinskommunikasiedag’

Image

‘n Skattige patriotjie?

Owerhede in die Russiese streek van Olianofsk aan die Wolga, het burgers aangemoedig om Woensdag kinders te maak. Dit sal daartoe lei dat klein "patriotjies" op 12 Junie 2008 hul eerste lewenslig aanskou, net betyds vir die Russiese nasionale feesdag.

Die dag van "bevrugting" sal amptelik die dag van "Gesinskommunikasie" heet, het die goewerneur van Olianofsk (900 km van Moskou geleë), Sergei Morozov, aangekondig. Die geboortesyfer in Rusland het dramaties afgeneem ná die val van kommunisme.

 
Die stad, wat dieselfde naam as die streek dra, is die geboorteplek van Lenin. Dit is die sewentiende grootste stad in Rusland. Dit is ‘n belangrike hawestad wat riviertoegang bied en sentrum vir lugvaart. Olianofsk huisves vliegtuigfabrieke.

Staatsamptenare en studente het Woensdag verlof gekry, nege maande voor die nasionale Grondwetfees, om te gaan arbei aan die volk. Dié aankondiging is deur die plaaslike owerheid gedoen. ‘n Aantal inwoners het by die hoofposkantoor byeengekom om gratis koeverte met die slagspreuk "Gee geboorte aan ‘n patriot" uit te stuur aan die hele Rusland.

‘n Kompetisie is ook gehou om die wenner van "liefdesverklarings" aan te wys. ‘n Selfoonmaatskappy het teksboodskappe teen ‘n verminderde tarief aan die tieners beskikbaar gestel en hulle kon lesings by die biblioteek bywoon om uit te vind wat toekomstige ouers alles behoort te lees.

Vir die kleuters was daar onderwerpe aangebied soos "Ek gaan ‘n boetie kry". Plaaslike museums het ook deelgeneem aan die inisiatief en tentoonstellings oor die onderwerp van liefde en samesyn gehou. Pryse vir moeders van "patriotjies" wat op 12 Junie gebore word wissel van televisiestelle tot viertrekvoertuie.

In die eerste helfte van 2007 het Rusland met 189 000 mense gekrimp. Die land het tans 142 miljoen inwoners volgens die Russiese statistiekdiens Rosstat.

86 у купитьАлександр Фильчаков