‘n Privaatskool in Pretoria het ‘n herrie veroorsaak omdat hulle glo leerlinge op grond van hul ras in klasse indeel, het Eyewitness News Donderdag berig.
Sekere ouers dring glo nou daarop aan dat die skool “in ooreenstemming met die land se Grondwet” handel. Kennelik meen dié ouers dat vryheid van assosiasie verontagsaam kan word.
Die beswaarde ouers wou glo weet hoekom sommige klasse net swart leerlinge bevat, terwyl wit leerlinge saam gegroepeer word.
Byna 30 ouers by die skool het na bewering ‘n petisie onderteken teen die Curro Roodeplaat Privaatskool in Pretoria.
André Pollard, streeksbestuurder van Curro Holdings, het ontken dat die skool leerlinge skei op grond van hul ras. “Dit is nie omdat ons die wittes wil skei nie, dit gaan oor vriendskappe. Kinders kan vriende maak met kinders van hul kultuur,” het hy aan die EWN gesê.
Pollard het gesê die aantal wit kinders in die skool is só baie min en daarom probeer die skool om hulle saam te groepeer.
“Sodra daar 12 of meer wit leerlinge is, word hulle verdeel en gelykop in ander klasse geplaas,” het Pollard verduidelik.
