
‘n Wit man wat aangekla word van poging tot moord op ‘n vermeende wildstroper, sal Maandag in die landdroshof op Malelane in Mpumalanga verskyn.
Die 31-jarige Richard Hume, die seun van die renoster- en buffelteler, John Hume, is op borgtog van vyfduisend rand vrygelaat.
John Hume is die grootste privaateienaar van renosters.
Hy het vroeër gesê dat die wet teen renostereienaars diskrimineer.
Volgens hom moet eienaars soms hul lewens waag om hul eiendom te beskerm.
“Ek het ‘n klein weermag om my diere te bewaak en dit kos my ‘n fortuin elke maand. Maar die wagte is bang om ‘n skoot op stropers te skiet, want as hulle hulle tref, sal hulle van moord aangekla word,” sê Hume.
Mpumalanga se polisiewoordvoerder, brig Selvy Mohlala, het gesê die polisie beskou die saak as “ernstig” en hulle “glo hy moet verantwoording doen”.
Die verdagte is in die kop geskiet en is na die hospitaal gehaas.
Die polisie sê die jonger Hume het na bewering op Sabelo Maphungla geskiet en hom gewond, terwyl hy met ‘n bakkie in die Mauricedale-wildreservaat gery het.
Nog twee mans wat saam met die gewonde man was, is van betreding en onwettige jag aangekla.
