Kritiek teen BMW oor ‘steel’-advertensie

Die voertuigvervaardiger BMW moes kritiek verduur weens ‘n omstrede reklamebord waarin ‘n Mini Cooper verskyn, berig die Johannesburgse koerant The Times vandag.

Op die advertensie verskyn die buitelyne van ‘n Mini Cooper, met ‘n groot gat waar die motor behoort te wees. ‘n Banier oor die advertensie lui: “Ry hom asof hy gesteel is!”

Twee inwoners van Soweto het ‘n klag by die Owerheid vir Advertensiestandaarde aanhangig gemaak omdat die advertensie “die steel van motors bevorder en ophemel, asook spoedoortreding en roekelose bestuur”.

Die twee klaers, Macbeth Ngema en Candice Nene meen die reklamebord is veral in swak smaak omdat dit naby die plek verskyn waar die swart musikant Molemo “Jub Jub” Maarohanye en sy vriend Themba Tshabalala vier skoolkinders doodgery en twee ander ernstig beseer het terwyl hulle in 2010 met hul Mini Coopers op straat resies gejaag het. Hulle is in 2012 tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis. Verlede maand is die uitspraak voorbehou in hul appèl teen dié vonnis.

Maar in ‘n nuwe verwikkeling blyk dit dat die reklamebord van BMW self intussen gesteel is.

Ook het die motormaatskappy laat blyk dat hy op dié advertensie besluit het nadat sy vorige reklamebord met ‘n beeld van ‘n Mini Cooper insgelyks gesteel is. Die nuwe reklamebord was dus ‘n ironiese verwysing na daardie gesteelde reklamebord, sê BMW.