Klag teen Mogoeng kom

Regter Mogoeng
Regter Mogoeng

Die Regterlike Dienskommissie (RDK) sal na verwagting vandeesweek ‘n amptelike klag ontvang waarin hoofregter Mogoeng Mogoeng se kop geëis word.

Dit is die jongste verwikkeling in die geskil rondom verandering aan die regbank en hoe die Regterlike Dienskommissie aanbevelings maak vir die aanstelling van regters.

Vrae is gevra oor die aanbevelings wat vroue regters betref asook ‘n ongunstige benadering teenoor wit mans.

Mogoeng het in sy toespraak getiteld “Die plig om te transformeer” by ‘n algemene jaarvergadering verlede maand van die Advocates for Transformation dit duidelik gemaak dat wit mans nie welkom is nie.

Die klag teen Mogoeng volg ná korrespondensie tussen homself en die direkteur van die Instituut vir Verantwoordbaarheid in Suider-Afrika, Paul Hoffman.

Hoffman het in ‘n brief aan Mogoeng gesê dit is ongrondwetlik om die loopbaan van enige persoon op grond van ras of geslag te benadeel.

Vroeër vanjaar het die RDK ‘n besprekingsdokument, geskryf deur advokaat Izak Smuts, verwerp waarin Smuts beweer die persepsie dat wit mans nie gunstig vir oorweeg word vir aanstellings nie, is besig om toe te neem.

Hy het bedank uit die kommissie ná hewige debatte.