Jackson Mthembu, die ANC se nasionale woordvoerder, het Vrydag gesê die VF+ se “Vervolg Malema”-veldtog stel Julius Malema se lewe in gevaar en kan tot sy “teregstelling” kan lei.
Die regerende party meen regses word deur die Mulders opgesweep om plaasmoorde te wreek deur die jeugligaleier te teiken.
Die ANC gaan die VF+ na die gelykheidshof neem nadat die party sy veldtog van stapel gestuur het.
Dr. Pieter Mulder, adjunkminister van lanbou en leier van die VF+, het Vrydag aan Die Burger gesê hy is stomgeslaan oor die ANC se reaksie
“Ons wil Malema nie dood hê nie, anders as die lied wat hý sing dat ‘Boere doodgeskiet’ moet word.”
Mthembu hou egter vol dat die VF+ ’n persoonlike wrok teen Malema hou en dat hy “beswadder” en “geïsoleer” word. Die ANC sê die VF+ skep ’n gunstige omgewing vir “waansinnige verregses” om Malema aan te val.
“Ons sal hulle verantwoordelik hou,” het Mthembu gewaarsku. “Hulle verbind hom met plaasmoorde. Dis belaglik. Wie weet watter verregses wag om wraak te neem?”
Mthembu het benadruk dat geen hof die “Kill the Boer”-lied onwettig verklaar nie.
