In ‘n poging om drankvergrype onder Franse tieners te probeer hokslaan, het die regering verlede week voorgestel dat die ouderdom waarop tieners drank mag koop van 16 tot 18 verhoog word. Die regering wil ook alkoholverkope by vulstasies verbied en die “drink soveel jy kan”-op kroegaande by skole beëindig.
Die Franse laat-maar-gaanhouding is oor die laaste 4 jaar getoets met ‘n 50%-verhoging van tieners onder 15-jarige ouderdom wat in die hospitaal beland het weens dronkenskap, het die ministerie van gesondheid berig.
“Drankvergrype is nie net meer ‘n Angel-Saksiese probleem nie”, het Alain Rigaud, president van ANPAA, ‘n anti-alkoholgroep, gesê.
Die wynnywerheid het gesê dat die beoogde maatreëls van die regering min gaan doen om die probleem op te los, en gaan ‘n industrie wat reeds swaar trek verder skade aandoen. Franse tieners beskou wyn as iets wat deur hulle ouers gedrink word, en as hulle wil dronk word, gebruik hulle eerder bier of hardehout.
Terwyl bier- en hardehoutgebruik effe gestyg het in Frankryk in onlangse jare, het die inname van wyn gedaal tot ‘n gemiddeld van 56 liter per persoon per jaar, van ‘n hoogtepunt van 100 liter in 1960, volgens die nasionale statistiekburo. Vir totale wyninname, blyk dit dat Amerika Frankryk gaan verbysteek, volgens ‘n studie wat vir Vinexpo, ‘n wynskou in Bordeaux, gedoen is, hoewel Frankryk voor bly op ‘n perkapitavlak.
Franse wynproduksie het gedaal, en ‘n verdere daling word verwag met die inkorting van subsidies van die EU. Om dinge vir wynmakers nog moeiliker te maak, is die president, Nicolas Sarkozy, ‘n geheelonthouer.
