Die regering gaan die SAUK vir hulle kykeronvriendelike inhoud met R1,5-miljard beloon.
Die minister van kommunikasie, generaal Siphiwe Nyanda, het tydens dié aankondiging gesê die regering hoop dat dié finansiële inpsuiting deur die regering die SAUK sal help om in sy dringendste behoeftes te voorsien. Dit sluit die betaling van agterstallige skuld in.
Die SAUK se aansoek vir ‘n waarborg van R1,473-miljard is deur die minister van finansies, Pravin Gordhan, goedgekeur. R1-miljard sal onmiddellik aan die SAUK beskikbaar gestel word.
In sy verklaring sê Gordhan dat nuwe beheermaatreëls ingestel sal word om aandeelhouers die versekering te gee dat die geld reg bestee sal word. Dit sluit gereelde bestuursverslae in.
Die oorblywende sowat R473-miljoen sal oorhandig word afhangende van ‘n plan met duidelike geldelike oogemerke en maatreëls om koste te bespaar.
Nyanda het Gordhan en die SAUK bedank vir hulle werk. “Die SAUK is ‘n nasionale bate wat jaloers opgepas moet word deur diegene wat in beheer geplaas is deur Suid-Afrikaners.”
Vroeër dié maand het die SAUK se interimraad aan die parlementêre portefeuljekomitee gesê die uitsaaier sal in 2012 weer winsgewend wees.
Die uitsaaier beplan om alle skulde teen 2014 afbetaal te hê. Hulle is in Oktoberreeds R200 miljoen van die Tesourie toegewys en sal dit tussen November en Maart volgende jaar ontvang om vir plaaslike inhoud te betaal.
Die regeringswaarborg van R1,4 miljard oor vyf jaar, sal “die korporasie in staat stel om geld van instellings te leen”.
Tans staan die verliese op R910 miljoen, maar die uitsaaier sê die syfer is besig om te krimp. Sedert die begin van die finasiële jaar is die SAUK se oortrokke rekening tussen R580 en R600 miljoen.
