‘n Man is in Ennerdale suid van Johannesburg in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van ‘n student aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), het die polisie Vrydag gesê.
Die 18-jarige swart verdagte was na bewering in besit van die ontvoerde student se gesteelde motor, aldus konstabel Elizabeth Mnguni.
Die 23-jarige wit UJ-student is Donderdagoggend omstreeks 09:00 deur ‘n gewapende man ontvoer terwyl sy besig was om haar motor by die kampus te parkeer.
Hy het ‘n vuurwapen op haar gerig en aan haar gesê om oor te skuif na die passasiersitplek.
Die man het die kampusterrein verlaat en na ‘n afgeleë parkeerterrein gery, waar hy haar hande vasgebind en haar in die kattebak van die motor ingeboender het.
Hy het toe na ‘n outomatiese tellermasjien gery.
“Sy sê sy het die PIN-kode aan hom gegee, want hy het gedreig om haar aan te rand indien sy dit nie doen nie,” het Mnguni gesê.
Die man het haar toe in Eldorado Park afgelaai, waar sy later gevind is.
Prof. Derek van der Merwe, UJ se visekanselier vir strategiese dienste, het gesê die universiteit het met die student gepraat.
“Ons het met haar gesels om soveel moontlik inligting te probeer kry en haar te ondersteun. Duidelik was hierdie ‘n traumatiese voorval en die universiteit sal berading aanbied vir haar én haar familie,” het hy gesê.
Van der Merwe het gesê die universiteit gee tans hul volle samewerking aan die polisie. – Sapa
