‘n Verslag van die polisie se nasionale inspektoraat wat van April tot Desember 2009 strek, is onlangs op versoek van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie vrygestel.
Uit die verslag blyk die algehele verval van die toesig en beheer wat by 733 van die land se 1 116 polisiestasies aan die orde van die dag is.
Die mees basiese beheer en toesig oor beamptes, dossiere, wapens en voertuie ontbreek. Weeklikse inspeksies word “oor die algemeen geminag” en nasionale opdragte word gewoon verontagsaam.
In Kwa-Zulu Natal word daar uit pligsversuim geen dossiere bygehou nie en klaers dus nie op hoogte van vordering indien enige, gehou nie.
Daarbenewens toon bevelvoerders ’n “ernstige gebrek” aan vaardighede en opleiding.
Die inspeksies is onderneem om te bepaal of bevelvoerders dissipline handhaaf en polisiekantore na behore bestuur.
Die ondersoek het hoofsaaklik op polisiekantore in Gauteng, Mpumalanga en die Vrystaat gekonsentreer.
