
Herman van Niekerk, die bedryfsbestuurder van Maritime Risk Solutions – ‘n private sekuriteitsfirma vir maritieme veiligheid – sê die dwelms wat by Hartenbos uitgespoel het, behoort waarskynlik aan een van die groot misdaadsindikate in die land.
“Hierdie ouens kom deur Knysna en die nabygeleë gebiede, want hulle is basies soos oop poorte … Niemand behartig die polisiëring van die kuslyn nie…”
Die harde dwelms was in blou dromme verpak en vakansiegangers het die dromme in die see opgemerk. Soortgelyke dromme is by Rheebokstrand, naby Mosselbaai gevind asook Pinnacle Point.
Nadat die polisie die vondse by ‘n forensiese laboratorium laat ontleed het, is vasgestel dat dit gesuiwerde kokaïen is met ‘n waarde van altesaam R100 miljoen.
In 2010, was Knysna die plek van een van Suid-Afrika se grootste dwelmklopjagte nadat die polisie ‘n Toledo-vissersboot wat vasgemeer was by ‘n waterfrontwoning, ondersoek het.
Hulle het R9 miljard se kokaïen op die vissersboot gekry.
‘n Kriminoloog van die Universiteit van Stellenbosch het gesê Knysna, Mosselbaai, George en Wilderness is maklike teikens vir smokkelaars omdat dié betrokke kusgebiede selde gepolisieer word.
Die polisie het die publiek gemaan om op die uitkyk te bly vir verdagte pakkies op strande of wat dryf op die see.
Maar, Patricia Gerber direkteur van Locked Up het wetstoepassingsowerhede daarvan beskuldig dat hulle nie genoeg doen om dwelmhandelaars vas te vat nie.
Sy sê die handel is nou buite beheer in die land en sy het ‘n beroep op polisie-amptenare gedoen om hard op te tree teen met diegene wat handel in dwelms.
Gerber sê in 2010, het die Verenigde Nasies (VN) in hul jaarlikse verslag verklaar dat Suid-Afrika die grootste invoerder en uitvoerder van kokaïen geword het.
Sy sê die SAPD en lughawenspersoneel beskerm van die dwelmhandelaars.
