Luidens Mulder se verklaring het die VF Plus "gedurende die verkiesing die ANC heftig gekritiseer oor die feit dat Suid-Afrika vir die eerste keer as gevolg van ANC-beleid ’n voedselinvoerland geword het. Die adjunkpos wat die VF Plus aangebied word, is juis oor landbou- en voedselsekuriteit."
Aangesien die ANC ’n 65% meerderheid het, het die party nie nodig om so ’n aanbod aan enige party te maak nie. Daar is dus nie sprake van ’n koalisie of enige ander soortgelyke ooreenkomste tussen die ANC en die VF Plus nie. Volgens Mulder "het Zuma in gesprekke oor die saak saamgestem dat die VF Plus sy outonomiteit as politieke party, asook sy kritiese rol as opposisieparty ten volle behou."
Tydens Zuma se inhuldigingstoespraak op 9 Mei 2009 het hy juis verwys na "'n vennootskap vir heropbou ontwikkeling en vooruitgang" waarin daar vir alle Suid-Afrikaners, swart en wit, plek is."
Dr. Pieter Mulder het voorts gesê dat hy "as VF Plus-leier breed met Afrikanerkultuur- en landbou-organisasies oor die saak geskakel het en hulle advies oor die aanbod gevra het. Hulle oorweldigende en eenparige reaksie was dat ons nie die hand van samewerking wat in hierdie ernstige tye na ons uitgesteek word, summier kan wegklap nie en dit as ’n geleentheid moet sien."
Die VF Plus wil die geleentheid dus verder benut om sake wat vir ons ondersteuners belangrik is soos Afrikaanse Universiteite en onderwys; naamsveranderinge; regstellende aksie en armoede; selfbeskikking; die status van Orania; amnestie en algemene minderheidsregte op die tafel te sit en verder met die ANC te onderhandel.
Die VF Plus sien daarom die aanvaarding van die aanbod as ’n politieke eksperiment wat besliste voordele vir Suid-Afrika, vir sy ondersteuners en vir die landbougemeenskap inhou. Die besluit sal egter van tyd tot tyd aan die hand van sekere riglyne geevalueer moet word ten einde te verseker dat die oogmerke daarmee nog bereik word.
Van die riglyne wat die VF Plus daargestel het, is die volgende:
1. Sonder die prysgawe van beginsels;
2. Behou die reg om die ANC te kritiseer waar nodig;
3. Dit moet tot voordeel wees van die bevordering van belange politiek;
4. Mag nie VF Plus se groeipotensiaal beperk nie;
5. Dat dit as ’n geleentheid benut sal word tot bevordering van en beter beskerming van minderheidsregte en Afrikanervryheid.
6. Dat dit deurlopend evalueer word.
Volgens Mulder "verander die besluit ook nie die VF Plus se standpunt oor die vorming van opposisiekoalisies om die ANC se monopolie op mag te verminder nie. Waar die ANC in die toekoms minder as 50% steun het, is die VF Plus steeds ten gunste van opposisiekoalisies. Verskeie sulke situasies kan reeds ná die volgende plaaslike verkiesings in sekere dorpe en stede opduik."
Die VF Plus het tydens die verkiesing entoesiasties daaraan gewerk dat die ANC nie ’n tweederdemeerderheid gekry het nie. Dit is in belang van Suid-Afrika en van die ANC dat die party nie nou so ’n tweederdemeerderheid kry nie en die VF Plus se standpunt hieroor het geensins verander nie. Die benutting van hierdie geleentheid beteken geensins dat die VF Plus sal meewerk om aan die ANC ’n tweederde meerderheid te gee nie.
Mulder het voorts gesê dat die besluit om die aanbod van president Zuma te aanvaar letterlik binne enkele ure geneem moes word. Daarom sal hierdie strategie nog verder deur VF Plus-strukture bespreek word.
