‘n Klagte is by die Persombudsman teen The Sowetan aanhangig gemaak oor ‘n berig wat die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Thandi Modise, aan haar mishandelde varke verbind.
Haar woordvoerder, Neo Moepi, sê die koerant het haar verklaring oor die verwaarloosde diere wat op haar plaas aangetref is, verdraai.
Moepi sê die berig onder die opskrif ” Ek het meer as my vark gely”, op die koerant se voorblad, is nie net lasterlik nie maar kom ook neer op karakterskending.
Hy sê dit skep die indruk dat die voormalige premier nie waarde heg aan die lewens of sorg van die diere wat op haar plaas aangehou is nie.
Die polisie en amptenare van die Dierebeskermingsvereniging het Saterdag op die plaas opgedaag waar hulle deur skokkende tonele van diereverwaarlosing begroet is.
Die diere is sowat twee weke lank sonder kos en water aan hul eie lot oorgelaat. Die varke het mekaar verskeur om te probeer oorleef. Dooie skape, bokke, en eende is ook op die plaas aangetref.
Daar was geen plaaswerkers op die eiendom nie, geen krag nie en die waterpompe was ook buite werking.
Die voormalige premier hou vol dat sy nie daaroor ingelig was nie.

