Pemba wil onafhanklik word van Tanzani

Image Tanzanië se regering het Pemba-leiers se versoek vir afskeiding van dié regering as hoogverraad bestempel en dit vergelyk met wat onlangs in die Comore gebeur het.

Pemba se eis kom net twee weke na die ineenstorting van die Zanzibar-vredesverdrag.  Die Tanzaniese regering sê dat dié verdrag – wat aanvoer dat magsdeling die oplossing vir Zanzibar se politieke krisis is – ongrondwetlik is.

Tanzanië se minister in die adjunk-president se kantoor, wat verantwoordelik is vir vakverbondsake, mnr. Mohamed Seif Khatib, het die Pemba-leiers vergelyk met “gevaarlike individue” soos kol. Mohamed Bacar.  Bacar is onlangs van die Comore verdryf deur Afrika-uniesoldate.

Pemba het verlede week hul versoek om afskeiding van Zanzibar aan die direkteur van die Verenigde Nasies-ontwikkelingsprogram (VNOP), mnr. Oscar Fernandez-Taranco, oorhandig.  Dit volg ‘n maand nadat hulle die eerste keer dié idee getoets en bespreek het.

Die leiers het hul petisie aan Fernandez-Taranco voorgelê en hom gevra om dit aan die Verenigde Nasies (VN) se sekretaris generaal, Ban Ki-moon, te oorhandig.

Die groep het verlede maand Amerika se ambassadeur in Tanzanië, mnr. Mark Green, genader om hul boodskap aan president George W. Bush oor te dra dat hulle graag van Tanzanië en Zanzibar wil skei.

Mnr. Khatib het die staat se versoek dat die Pemba-leiers in hegtenis geneem moet word, afgewys en net gesê:  “Hulle versoek is teen ons land se wetgewing en kan beskou word as hoogverraad.  Ek dink nie hulle kan as ‘n onafhanklike land funksioneer nie.”  Khatib het Sondag Pemba toe gevlieg om die situasie te monitor.

Khatib het verder Tanzanië se opposisie daarvan beskuldig dat hulle Pemba se onafhanklikheidsplanne ondersteun.

Alhoewel daar nog vasgestel moet word wie agter dié planne sit, sê kenners dat die verwikkelinge ‘n toets sal wees vir president Jakaya Kikwete se regering wat al jare sukkel met die politieke dooiepunt in Zanzibar.

Pemba versterk hul onafhanklikheidsdoelwit met die bewering dat die eiland ekonomies al sedert die 164-revolusie deur die rewolusionêre Zanzibar-regering gemarginaliseer is.

Hulle gebruik die 192 topposisies in die Zanzibar-regering as ‘n voorbeeld.  Volgens Pemba-eiland word slegs 26 setels van die 192 beset deur mense van Pemba, terwyl die ander van Unguja afkomstig is.

Verdere bewerings lui dat alle ontwikkeling in Unguja geskied en dat Pemba tevrede moet wees met die “krummels”.

Khatib het die bewerings as sinloos bestempel sonder enige “konkrete bewyse”.  “Unguja is waar die regering gesetel is, natuurlik sal hulle ‘n hoër vlak van ontwikkeling hê as Pemba,” sê Khatib.  Hy voer verder aan dat, “niemand kan sê dat Pemba ‘n vergete eiland is nie.  Daar word dan nuwe lughawens en stadions gebou!”

Pemba lê ongeveer 50 kilometer noord van Unguja.  Boerdery op klein skaal is die hoofekonomiese inkomste van dié eiland wat oor meer vrugbare grond as Unguja beskik.

mobile casinoФильчаков прокурор