Akkreditasie van Universitas Akademiese Hospitaal ondersoek

Die Openbare Dienstekommissie (ODK) gaan die akkreditasie van die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein moontlik ondersoek.

‘n Aankondiging deur die Gesondheidsminister, Aaron Motsoaledi, dat die Universitas-hospitaal nou die swakste opleidingshospitaal in die land is, is deur klagtes gevolg oor dié hospitaal en die Pelonomi-hospitaal na die kommissie verwys is.

Motsoaledi het gesê hy is nie bewus van die oorsaak nie, maar die hospitaal se standaardvereistes het van 90% tot 60% geval. Hy het gesê die redes hiervoor gaan dringend ondersoek moet word.

Die Vrystaatse kommissaris van die Openbare Dienstekommissie, Henk Boshoff, sê hy het reeds die Vrystaatse Gesondheidsdepartement om kommentaar genader oor doe kwessie.

Boshoff sê hulle het ‘n klag met betrekking tot dié twee gesondsgeriewe via die nasionale antikorrupsie-blitslyn ontvang.

Hy sê dit is nie ‘n ondersoek nie, maar hy het wel inligting aangevra.

Verlamde wag reeds 2 weke tevergeefs op dokters

Die woordvoerder van die Vrystaatse regering, Mondli Mvambi, het gevra dat die verlamde Carina Visagie, wat al langer as twee weke in Bloemfontein se Pelonomi-hospitaal se spinale afdeling lê, nie moed moet verloor nie.

Dit het dié week aan die lig gekom dat die 19-jarige Visagie reeds 18 dae ongeopereer in die hospitaal lê, weens ‘n tekort aan dokters.

Visagie was verlede maand in ‘n motor-ongeluk en het haar rug op die T6-werwel gebreek, het OFM berig.

Mvambi sê die regering werk hard daaraan om dokters by Pelonomi aan te stel en die publiek word gevra om geduldig wees.

Hy sê verlede jaar het die ortopedie-afdeling van die hospitaal soortgelyke probleme ondervind, maar dié is spoedig opgelos.