Tweedens handel De La Rey oor ‘n persoon wat lank reeds oorlede is, oor ‘n konflik van ‘n eeu of meer gelede wat niks met die huidige regime te make het nie. Dit sou in ‘n normale, demokratiese land moeilik gaan om mens in te dink dat ‘n regering blote lirieke enigsins as bedreigend kan ervaar, laat staan nog om hom te verwerdig om iets daaroor kwyt te raak. Sou ‘n regerende party in die VSA byvoorbeeld amptelik iets sê oor die liedjie The Battle Hymn of the Republic, wat ook oor ‘n oorlog van lank gelede handel.
Die enigste manier om die bisarre uitbarsting van die departement Kuns en Kultuur te verstaan, is om die gevolgtrekking te maak dat die regime hom bedreig voel deur ‘n bepaalde etniese groep as gevolg van ‘n skuldige gewete aan die regime se kant. Kan dit wees dat die regime uiteindelik begin verstaan dat hy te ver gegaan het met sy vertrapping van Afrikaners se taal-, gemeenskaps- en kultuurregte, en dat niks groter vrees by hom inboesem as die vooruitsig van breë rebelsheid en weerstand onder Afrikaners nie? Weerstand wat ironies genoeg deur die regime se eie optrede veroorsaak is.
Dieselfde minister Pallo Jordan sit tans byvoorbeeld met ‘n voorstel oor die naamsverandering van Pretoria voor hom, ‘n pragvoorbeeld van hoe daar doelbewus ‘n stryd teen Afrikaners, hul geskiedenis en taal gevoer word. Aanval is die beste vorm van verdediging, meen die minister waarskynlik, en dus word Afrikaners as “verregs” indien nie gewelddadige ondersteuners van die Boeremag gekarikaturiseer, terwyl die ANC se aanslag op die Afrikaner net in felheid toeneem.
(Die vermeende Boeremag, klein soos hy glo was, boesem terloops duidelik geweldige vrees en ontsag by die ANC regime in, en nie om dowe neute nie. Ek het die DA se segsman oor verdediging die anderdag op RSG hoor sê dat ‘n Zimbabwiese weermaglid al vir hom gesê het dat die MIV-deurdrenkte, getransformeerde, gedemoraliseerde SANW geen weerstand sou kon bied as die Zimbabwiese weermag sou besluit om van Beitbrug na Kaapstad op te ruk nie.)
Ek en die oorweldigende meerderheid Afrikaners (glo en vertrou ek) is egter nie voorstanders van geweld nie. Daar is ander, vreedsame maniere om ons ongelukkigheid te kenne te gee. Die hoogs effektiewe belastingboikotte wat Noord-Kaapse munisipaliteite onlangs verlam het, is een voorbeeld. Dit is daarom goed dat dr Jordan en hopelik die regime betyds wakker geskok is deur De la Rey. As die regime sy veldtog teen Afrikaners sou staak en gehoor gee aan sy eie grondwet, spesifiek die gedeeltes oor selfbeskikking, kan vreedsame verset waarskynlik vermy word.
