Volgens die polisie is sowat 30 vermeende onwettige myners uit ‘n ou goudmynskag op Florida aan die Wes-Rand gered.
Hulle sal Woensdag die soektog vir meer mense hervat, wat vermoedelik nog ondergronds vasgekeer is.
Minstens drie van hulle het ernstige beserings opgedoen nadat gevegte ondergronds tussen twee strydende bendes uitgebreek het.
Die mans was vasgekeer nadat ‘n tou na die oppervlak gesny is.
Die polisie se kolonel Noxolo Kweza het gesê: “Tot dusver het ons 30 mense gered. Ons het onwettige myners gekry en ons het hulle uitgehaal want hulle is nie veronderstel om daar te wees nie. Hulle is daar onwettig. Ons prioriteit is nou om seker te maak dat daar niemand oorbly nie en ons sal aanhou om terug te gaan om seker te maak.”
Volgens die polisie sal die verdagtes teregstaan op aanklagte van onwettige mynbedrywighede en betreding.
