Slegte nuus vir verveelde kykers wat die vermoë verloor het om vir hulleself te dink: Die kletskoningin en mediamagnaat, Oprah Winfrey kondig vandag aan dat sy haar wêreldberoemde kekkelprogram gaan staak. Die laaste aflewering sal op 9 September 2011, na 25 jaar opgeneem word.
Winfrey, ‘n swartvrou van Chicago, het haar eie kletsprogramstyl met sappige stories, goeie navorsing en ‘n uitspattige, affektiewe, soms histeriese manier van aanbieding ontwikkel. Sy het hierdie sukses gebruik om haar eie produksiemaatskappy, Harpo, op te rig. Deesdae word sy as een van die magtigste persone in die uitsaaiwese beskou, ‘n status wat gebaseer is op ‘n lojale kykerspubliek wat haar onbeskaamde selfpromovering verslind.
Kykers het toenemend haar produkaanbevelings slaafs nagevolg. Enige toestel met die Oprah-endossement van goedkeuring, was oombliklik ‘n groot sukses. Selfs groot, ikoniese maatskappye was by tye dankbaar vir haar ondersteuning. Apple, byvoorbeeld, was ekstaties toe Winfrey ‘n onmiddellike topverkoper van die I-pod gemaak het met die aankondiging dat sy haar musiek daarop luister. Dit word die Oprah-effek genoem.
Tog is daar aanduidings dat Winfrey se ster aan die verskiet is, veral na sy die onkonvensionele stap geneem het om haar objektiwiteit te versaak en haar volle steun aan Barack Obama as president toe te sê. Obama se presidentskap is besig om in ‘n verleentheid te ontaard en Winfrey se kwynende kykersgetalle is die bewys daarvan.
Volgens ‘n woordvoerder van haar maatskappy gaan sy voortaan op die ontwikkeling van haar eie kabeltelevisiekanaal, OWN, die Oprah Winfrey Netwerk, konsentreer. Sy doen dit in samewerking met Discovery Communications.
Winfrey se gewildheid het , na ‘n hoogtepunt in die laat negentigerjare, skerp gedaal in Suid-Afrika, veral na ‘n debakel waarin sy die sogenaamde “Engel van Soweto” met groot vertoon ondersteun het. Die “Engel” is later ontmasker as ‘n swendelaar wat voorgegee het om na weeskinders om te sien. Sy het ook die Oprah Winfrey Meisiesakademie in Gauteng begin, ‘n peperduur privaatskool vir hoofsaaklik swart meisies wat die een verleentheid na die ander opgelewer het.
In konserwatiewe kringe word gevra of die kwyning van Oprah Winfrey se gewildheid ‘n kentering in die houvas van liberales op die openbare media aandui.
