Meer as 700 voertuie van die openbare vervoerstelsel is die afgelope maand onpadwaardig verklaar, het die department van vervoer Woensdag in ‘n verklaring gesê.
Dit sluit meer as 400 busse en 250 taxi’s in.
“Wetstoepassingsbeamptes sal oor die volgende paar dae hul optredes teenoor operateurs van openbare vervoer verskerp, veral busse en taxi’s. Voertuie wat onpadwaardig is, sal van die pad verwyder word.”
“Luidens die verklaring het operateurs van openbare vervoer ‘n verantwoordelikheid om die lewens van hul passasiers te beskerm. Hulle moet nie net in geldmaak geïnteresseerd wees nie.”
Volgens die departement sal bestuurders wat die spoedgrense oortree, beboet of gearresteer word. Die afgelope maand is daar reeds 250 000 motoriste beboet wat spoedgrense oortree het, en 2 500 is gearresteer nadat hulle onder die invloed van alkohol bestuur het.
“Ten spyte van al ons waarskuwings, oortree motoriste steeds die wet.”
“Dis hoekom wetstoepassers in die volgende paar dae geen genade gaan toon nie,” het Sibusiso Ndebele, minister van vervoer gesê.
