Invorderaar vir Oostenrykse e-tolmaatskappy bedank skielik

kapschBeeld berig dat Salahdin Yacoubi, hoofamptenaar van Electronic Tolling Collection (ETC), skielik bedank het. Hy was die baas van die onderneming wat Gauteng se e-tol sal moet invorder.

Die redes vir sy skielike bedanking is nog onbekend, het Fin24 berig.

ETC is ’n filiaal van die Oostenrykse e-tolmaatskappy Kapsch Traffic-Com en is in 2009 gestig met die uitsluitlike doel om te help met die insameling van Gauteng se tolgeld. Dié massiewe taak sal die verantwoordelikheid van ETC en die plaaslike bemagtigingsmaatskappy Traffic Management Technologies (TMT) wees.

Die Nasionale Padagentskap (Sanral) het gesê hy is self eers gister van Yacoubi se bedanking in kennis gestel, maar dat dit geen uitwerking op sy kontrak met ETC sal hê nie.