Wêreldbekerwenners Bryan Habana, Victor Matfield en Fourie du Preez sal volgende maand vir die Barbarians aantree vir dié uitnodigingspan se wedstryd teen Nieu-Seeland. Ander bekende spelers sluit Australië se Matt Giteau en Rocky Elsom, Wallis se Jamie Roberts en Andy Powell en All Black-vleuel Joe Rokocoko in.
Dit is die laaste westryd van Nieu-Seeland se Europese toer.
Daar heers kommer in Suid-Afrikaanse voetbalkringe dat die drie sleutelspelers van Suid-Afrika ernstig afgemat is na ‘n intense en uitgerekte seisoen wat in Februarie met die Super 14 begin het. Matfield, byvoorbeeld, was op die veld vir elke minuut van elke wedstryd totdat hy teen Frankryk die veld met ‘n bloedbesering verlaat het.
Die voetbalseisoen begin weer in Februarie met die Super 14. Springbokke sal ‘n karige twee weke rus gegun word voordat hulle weer begin oefen.
