In ‘n voortsetting van onluste wat op 11 Julie in Clare Estate, wes van Durban, losgebars het, heers daar vandag weereens chaos. Inwoners van Palmietweg is deur die polisie na hul huise vergesel ná ‘n klipgooiery. Elektriese meters en kragpale is insgelyks aan die brand gesteek.
Blykbaar is die inwoners ongelukkig omdat hul onwettige elektrisiteitsverbindings deur die stadsraad ontkoppel is.
Die polisie se onluseenheid is gister ontbied nadat meer as 100 plakkerskampinwoners in Clare Estate ‘n pad met brandende buitebande en takke versper het.
Die inwoners is woedend vir die Durbanse munisipaliteit wat twee privaatveiligheidsmaatskappye gekry het om die kabels van onwettige verbiedings af te sny.
Ná ‘n konfrontasie tussen polisie en die skare, is die onluseenheid se hulp ingeroep.
Blykbaar hou die probleem reeds jare lank aan. ‘n Inwoner in die formele deel van die buurt, wat slegs as Rio bekend wil staan, sê dat die hele gebied nou sonder elektrisiteit is.
“Telkens as hulle die elekrisiteitskabels van die kragbron afsny, gebeur dit. Die hoofkragkas is naby waar ek woon en as die sekerings uitbrand, sny dit die krag in die hele gebied af,” sê Rio.
“Ons verdien dit nie want ons help hulle met kos en klere. Ons is daarvan bewus dat (die plakkers) onder moeilike omstandighede leef en help hulle waar ons kan. Die wykraadslid is nooit beskikbaar nie en stel ook nie in ons probleme belang nie.”
Maar die betrokke raadslik Themba Mtshali, meen dat hy sy bes doen om te help. Volgens hom verkeer ‘n deel van die grond wat die plakkers beset egter in privaatbesit.
Die munisipaliteit het ingestem om elektrisiteit te voorsien maar toestemming om die grond te beset moet eers van die eienaars verkry word.
