“Die minister van Polisie, mnr. Nathi Mthethwa, se uitspraak dat net wetstoepassers vuurwapens behoort te dra, is ‘n erkenning dat die regering burgerlikes wil ontwapen. Die minister trap klei oor vuurwapens en weerspreek homself. Mthethwa sê nou dat sedert 2005 bykans een miljoen vuurwapens uit sirkulasie geneem is. Verlede jaar in die parlement antwoord hy op ‘n vraag (hieronder aangeheg) van my en sê sedert 1 Julie 2004 (toe die nuwe wet ingestel is) is 125 716 vuurwapens by die polisie ingehandig. In dieselfde antwoord sê hy dat van 1 Julie 2004 tot 30 Junie 2009 is op slegs 104 880 onwettige vuurwapens beslag gelê. Dit is prakties onmoontlik om in net een jaar ongeveer 800 000 vuurwapens uit sirkulasie te haal. Die minister mislei die publiek oor vuurwapens,” sê mnr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.
“Kommissaris Bheki Cele mislei ook die publiek. Die minister het op ‘n ander vraag van my in die parlement erken hy kan nie sê hoeveel misdade is gepleeg deur eienaars van wettige vuurwapens of deur persone met gesteelde of onwettige vuurwapens nie (antwoord hieronder). As die minister nie eers weet hoeveel misdade met onwettige vuurwapens gepleeg is nie, hoe kan Cele sê die impak wat die polisie op die getal onwettige wapens in omloop maak, word gesien in die toename in mesmoorde. Die minister en die kommissaris weerspreek hulleself en mekaar en is ‘n bewys dat hulle ‘n veldtog voer teen wettige vuurwapeneienaars,” sê Groenewald.
“Van die instelling van die nuwe Vuurwapenwet voer die regering ‘n vendetta teen wettige vuurwapeneienaars. Dit word nou voortgesit en is duidelik in die uitsprake van
Mthethwa in Oktober verlede jaar toe hy gesê het die buitensporige misdaad in Suid-Afrika is deels te wyte aan die hoë getal vuurwapens onder burgerlikes. Dit is opgevolg deur pres. Jacob Zuma wat dieselfde maand by Tzaneen in Limpopo gesê dat te veel vuurwapens in die hande van burgerlikes is. Burgerlikes het vuurwapens nodig om hulleself te verdedig teen misdadigers as gevolg van die hoë misdaadsyfers in Suid-Afrika. Indien misdaadsyfers laag is sal burgerlikes hulleself minder bewapen en sal daar dan minder vuurwapens in omloop wees. Die plig is op die minister en kommissaris om misdaad effektief te beveg, dan sal daar minder vuurwapens wees,” het Groenewald gesê.
