'n Konstruksieperseel in Merapong, Limpopo, is gesluit toe subkontrakteurs wat vir 'n filliaal van Eskom gewerk het begin staak het oor salarisse, het Eskom Donderdag gesê.
Woordvoerder Fani Zulu het gesê die werkers was besig om akkommodasie te bou vir Roshconwerkers wat gewerk het aan Eskom se Medupikragstasie toe hulle oor salarisverhogings begin betoog het.
Die perseel is Dinsdag gesluit ná werkers die pad geblokkeer het en polisie en bestuur met klippe begin gooi het.
"Dit is moontlik dat ons die perseel gesluit kan hou tot volgende week," het Zulu gesê.
Roshcon, wat deel vorm van die Eskom Enterprises-divisie en sy subkontrakteurs het 'n reeks vergaderings gehou met die werkers voor die onlangse staking, het hy gesê.
"Dit is jammer dat die werkers weer moes begin staak nadat beide partye 'n oplossing bereik het."
Superintendent Ronel Otto het gesê die werkers het twee busse met klippe gegooi. Polisie was op die toneel om die situasie te monitor. Geen beserings is aangemeld nie.
Woensdag is 10 werkers beseer toe polisie met rubberkoeëls op hulle geskiet het buite die Roshcon-konstruksiemaatskappy.
Die stakende werkers eis 'n 11%-verhoging.
