Tambo vra te veel vir Mandela-borsbeeld

‘n Verdoemende interne regsmening het bevind dat Dali Tambo se maatskappy die Parlement te veel gevra het vir ‘n borsbeeld van Nelson Mandela wat buite die Nasionale Vergadering staan​​, het City Press berig.

Die regsmening stel ook voor dat die besteding aan die borsbeeld onreëlmatig verklaar moet word. Maar die Parlement betwis sy eie regsmening en dring daarop aan dat dit nie onreëlmatig of verkwistend was nie.

Tambo het Saterdag gedreig om City Press te dagvaar indien enigiets “onwaar” oor die tender verskyn en het daarop aangedring dat alles bo verdenking is.

City Press is in besit van dokumente wat wys dat Tambo se maatskappy, Koketso Growth, ‘n “voorlopige voorstel en kosteberekening” aan die Parlement op 13 Februarie voorgelê het.

Daarin het die maatskappy die koste van die borsbeeld op R1.8m geraam. Maar tesame met ‘n “bestuurs- en hanteringsfooi” van 20% en BTW teen 14%, is die bedrag tot R2,5 verhoog. Tambo het net oor die R2 miljoen ontvang.

Maar ‘n praktiserende beeldhouer het aan City Press gesê die borsbeeld behoort tussen R750 000 en R1 miljoen te kos om te maak en te installeer.

Dit, volgens die regsadviseur, beteken die Parlement het nie ‘n markverwante prys betaal vir die beeld nie. “Enige bedrag wat meer is as die markverwante prys kan beskou word as ‘n vrugtelose en verkwistende uitgawe,” lui die regsmening.