Drie onderwysers geskors na swaksiende verdrink

Drie onderwysers van die skool vir blindes in Christiana in Noordwes is geskors nadat ‘n leerder wat gedeeltelik blind is, verdrink het.

Brian Setswambung, woordvoerder van die provinsiale departement van onderwys, het gesê die drie is ná van ‘n voorlopige ondersoek geskors.

“Die departement dink daar is moontlik ‘n prima facie-saak van nalatigheid.”

Sikhona Mogapi, ‘n gr. 2-leerder, het op 15 September in die skool se swembad verdrink.

Sers. Kealeboga Molale het toe gesê die kind het vermoedelik oor ‘n heining by die swembad geklim. Hy het geen sigbare beserings gehad nie.

Wendy Matsemela, LUR vir onderwys, het Woensdag in ‘n verklaring gesê ‘n taakspan wat die voorval ondersoek, sal binnekort ‘n verslag indien. – Sapa