Sy plan sluit ’n openbare versekeringskema, waaroor baie dokters skepties is, in.
Obama het sy gesondheidsveldtog na die jaarvergadering van die invloedryke Amerikaanse mediese vereniging (AMA) geneem, wat meer as 250 000 dokters verteenwoordig en histories teen ’n groter regeringsrol in gesondheidsorg gekant is.
“As ons nie ons gesondheidstelsel regmaak nie, kan Amerika dieselfde pad loop as GM; meer betaal, minder kry en bankrot speel,” het hy gesê met verwysing na die sukkelende motorvervaardiger General Motors, wat aansoek gedoen het om likwidasie.
“Dit is ’n tikkende tydbom vir die federale begroting. En dit is onvolhoubaar vir die Verenigde State van Amerika.” Obama wil teen Oktober ’n hervormingswetsontwerp op sy lessenaar hê.
Nagenoeg 46 miljoen Amerikaners het nie mediese versekering nie en min toegang tot mediese sorg.
Die debat oor sekere kwessies van die hersiening wat deur die kongres opgestel word, het in felheid toegeneem.
Onder dié kwessies is die finansiering van die plan en of dit ’n openbare program moet insluit om met private versekeraars mee te ding.
In Washington het die voorsitter van die senaatskomitee oor finansies, mnr. Max Baucus, gesê sy paneel sal vandeesweek wetgewing oor hervorming van die gesondheidsorgstelsel voorlê.
Die kanse lyk goed dat die maatreël met steun van albei partye in die voltallige senaat deurgevoer sal word.
Talle Republikeine verwerp egter die plan omdat hulle meen dit sal uiteindelik private versekeraars kelder.
Die AMA het ook twyfel uitgespreek oor enige openbare skema wat soortgelyk is aan die regering se Medicare-program vir senior burgers.
