Die nuwe veiligheidsmaatreëls vir passasiers wat na of van die VSA vlieg, is Maandag deur Nigerië as “onregverdig” beskryf.
Die Afrikaland meen die nuwe regulasies diskrimineer teen soveel as 150 miljoen mense.
Die VSA het onlangs aangekondig dat reisigers van 14 lande, insluitende Nigerië, onderhewig sal wees aan strenger veiligheidsmaatreëls op Amerikaanse lughawens.
Die opskerping van sekuriteit volg ná ’n jong Nigeriër daarvan beskuldig is dat hy ’n Amerikaanse vliegtuig wou opblaas op Kersdag.
Volgens Dora Akoenyili, Nigerië se minister van inligting, het dié land geen geskiedenis van terrorisme nie en kan so ’n besluit deur die VSA nie geregverdig word nie.
“Dit is onregverdig om Nigerië in so ’n lys in te sluit. Nigeriërs het nie terroristiese neigings nie,” het Akoenyili aan joernaliste gesê.
Oemar Faroek Abdoelmoetallab, ’n 23-jarige Nigeriër, word daarvan aangekla dat hy plofstof aan boord van ‘n Amerikaanse vliegtuig aan die brand wou steek.
“Abdoelmoetallab se gedrag is nie soos die van ander Nigeriërs nie en moet dus nie gebruik word om alle Nigeriërs te oordeel nie,” aldus Akoenyili.
“Hy is nie deur Nigeriërs beïnvloed nie,” het Akoenyili gesê. “Hy is nie in Nigerië opgelei nie en is nie hier ondersteun nie.”
Volgens aanklaers wou Abdoelmoetallab die aanval uitvoer na hy opleiding by ’n militêre basis in Jemen ontvang het.
