NUM dreig met staking

'n Staking dreig in die mynsektor, het die NUM, die Nasionale Unie vir Mynwerkers, Donderdag gesê. Die Unie en die Kamer van Mynwese se goudafdeling het 'n dooipunt bereik, het Lesiba Seshoka in 'n verklaring gesê.

Die Kamer het 7% aangebied teenoor die 15% wat NUM eis. Die dooiepunt sal nou deur die CCMA, (Commission for Conciliation, Mediation and Arbitration) oftewel die Kommissie vir Konsiliasie, Mediasie en Arbitrasie, opgelos moet word

Die impasse kan veroorsaak dat 150 000 myners staak. NUM se algemene sekretaris Frans Baleni het gesê om te staak is altyd die laaste uitweg, "maar hierdie jaar is dit onvermydelik".

Vakbond Solidariteit het gesê professionele hulp word nou benodig in die onderhandelingsproses. Woordvoerder Jaco Kleynhans het in 'n verklaring gesê die verbruikersprysindeks staan tans op 8,4% en vakbondlede sal nie 'n aanbod aanvaar wat dit nie in ag neem nie.

In Januarie het die D-lyne van AngloGold Ashanti, Gold Fields en Harmony verhogings van tussen 10 en 15% ontvang. Nou is dit die beurt van B en C om ook dubbelsyferverhogings te kry.

UASA se Franz Stehring, afdelingshoof wat gemoeid is met mynarbeid, het gesê die myne se aanbod is 'n belediging. Hy sê mediese inflasie oor die afgelope sewe of agt jaar alleen het met ongeveer 7% gestyg bo die normale koers.

Hy sê die verhoging sal hulle lede verarm en hulle sal nie daaran dink om die aanbod na hulle lede te vat nie.

Die Kamer van Mynwese sê daar is nogtans oor sekere kwessies ooreengekom, soos vaardigheidsopleiding, aandeelopsieplanne en beskermende kleredrag vir vroue wat ondergronds werk.

Harmony het aangedui dat hulle na groter verhogings sal kyk. Elize Strydom, wat namens die myne onderhandel, meen sekere kwessies sal makliker hanteer word in 'n "gefasiliteerde proses". Sy het gesê daar sal oplossings gevind word en 'n werklike balans tussen die eise van die werknemers en die maatskappye.

купить интернет магазинданильченко юрій Харків