Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid sal die seiljagongeluk aan die Weskus ondersoek.
Drie mense was aan boord van die seiljag, wat glo van Langebaan na Kaapstad op pad was.
‘n Ierse burger wat in die Wes-Kaap woonagtig is, het oorleef en is nie beseer nie.
Hy kon daarin slaag om die owerhede van die ongeluk in kennis te stel.
Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die NSRI is Maandagoggend vroeg ontbied om bystand te verleen.
Die seiljag het tussen Melkbosstrand en Yzerfontein omgeslaan.
Lambinon het gesê die lyke van twee Wes-Kaapse inwoners, onderskeidelik ‘n Skot en ‘n Ier, is op die toneel gevind.
Die polisie het intussen ‘n dossier vir ‘n geregtelike doodsondersoek geopen om die oorsaak van die dood van die twee seiljagvaarders te bepaal.
“Met die NSRI se aankoms is die seiljag Tara aan stukke op die rotse aan die kus gevind,” het Lambinon gesê.
Dit is nog onbekend wat die ongeluk veroorsaak het aangesien dit nie duidelik is of die seiljag omgeslaan het voordat dit die rotse getref het nie.
