Nigeri? vat Moslemsekte met geweld vas

Nigeriese soldate en polisielede het gister in dié noordelike stad van huis na huis gesoek na lede van ’n Islamitiese sekte wat verantwoordelik is vir botsings waarin meer as 150 mense dood is. Die sekte staan bekend as die Boko haram. “Boko” is ’n Hausa-woord vir “Westers” en “haram” is Arabies vir “verbode”.

Lede van die veiligheidsmagte in gepantserde voertuie het eergister ’n kamp wat vermoedelik aan Mohamed Yusuf behoort, leier van die Boko Haram-sekte, omring en gebombardeer. Geboue, waaronder ’n moskee, is vernietig. Dit is egter onbekend waar die prediker hom bevind.

“Honderde lede is aangekeer,” het mnr. Adamu Yari, ’n inwoner van Maiduguri, gesê. Die geluide van die aanval op die kamp het deur die nag weerklink.

Yusuf se ondersteuners – gewapen met kapmesse, messe, tuisgemaakte jaggewere en petrolbomme – het die laaste paar dae kerke, polisiekantore, tronke en staatsgeboue in die noorde aangeval waar oorwegend Moslems woon.

Die geweld het uitgebreek toe lede van Boko Haram Sondag in die deelstaat Bauchi aangekeer is.

Onrus het versprei na die noordelike deelstate Kano, Yobe en Borno, waarvan die hoofstad, Maiduguri, Yusuf se basis is.

Pres. Umaru Yar’ Adua het die veiligheidsmagte opdrag gegee om al die nodige te doen om die sektelede onder bedwang te bring. Hy het Dinsdag aan veiligheidshoofde en goewerneurs van die betrokke deelstate ’n finale operasie beloof om die sektelede uit te jaag.

“Hierdie mense is georganiseerd en het ons samelewing binnegedring en inligting versamel oor hoe om bomme te maak om hul wêreldbeskouing aan alle ander Nigeriërs op te dwing,” het hy gesê.

раскрутка сайталобановский александр харьков