Paleontoloë het die wysheid dat Afrika die enigste wieg van die mensdom is, met 'n reeks skitterende paleotologiese ontdekkings die nekslag toegedien. Hulle het 'n aantal menslike oerskedels ontdek, twee uur van die Georgiese hoofstad Tbilisi, wat daarop dui dat daar 'n Eurasiese verhaal in die lang evolusionêre ketting is.
Die skedels, kakebene en fragmente van ledemaatbene suggereer dat die ontdekking in die middeleeuse dorpie van Dmanisi aan die voet van die Kaukasusberge wat veronderstel is om 1,8 miljoen jaar oud te wees, beslis die oudste menslike oorblyfsels buite Afrika is.
Die navorsers is veral opgewonde oor die feit dat hierdie vroeë mense baie meer primitief lyk as Homo erectus wat, soos baie glo, die eerste mense was wat 'n miljoen jaar gelede uit Afrika migreer het.
Die Dmanisi-mens se breingrootte is ongeveer 40% kleiner as Homo erectus en hulle was baie korter as die klassieke skelet van erectus aantoon, volgens professor David Lordkipanidze, algemene direkteur van Georgië se Nationale Museum.
"Voorheen, voor ons ontdekking, was die algemeen aanvaarde siening dat mense 'n miljoen jaar gelede uit Afrika gekom het, dat hulle reeds gesofistikeerde klipwerktuie gehad het en dat hulle liggaamsanatomie gevorderd was in terme van breinkapasiteit en ledemaatverhoudings. Maar wat ons ontdek het is heeltemal anders," sê prof. Lordkipanidze.
"Die Dmanisi-hominine is die vroegste verteenwoordigers van ons genus – Homo – buite Afrika en hulle verteenwoordig die mees primitiewe bevolking van die Homo erectus-spesie tot op datum. Hulle kan selfs die voorouers wees vir alle latere Homo erectus-bevolkings, wat 'n Eurasiese oorsprong vir Homo erectus aandui."
Professor Lordkipanidze het by die British Science Festival in Guildford opgetree as spreker, vir die British Council-lesing. Dit is deur die British Science Association gereël. Hy het gesê dit is moontlik dat Homo erectus uit Eurasië ontstaan het vanuit die primitiewe Dmanisi-bevolking en vandaar na Afrika gemigreer het
"Die vraag of Homo erectus uit Afrika ontstaan het of uit Eurasië, en as dit Eurasië is het ons omgekeerde migrasie? Die gedagte het baie dom gelyk 'n paar jaar gelede, maar vandag klink dit nie so onnosel nie."
Wetenskaplikes het vyf skedels en 'n kakebeen ontdek. Dit is duidelik dat hulle baie klein skeels gehad het, byna 'n derde van die grootte van moderne mense. "Hulle is baie klein. Hulle laer ledemate is baie menslik en hulle boonste ledemate nog baie argaïes en hulle het primitiewe klipwerktuie gehad."
Professor Lordkipanidze het gesê die brein was omtrent 600 kubieke cm groot. Vóór hierdie ontdekking was die heersende siening dat die eerste mense wat Afrika verlaat het 'n brein van 1000 kubieke cm groot gehad het.
Die enigste menslike fossiel wat ouer is as die Dmanisi-voorbeelde is 'n argaïese spesie Homo habilis, wat ook in Afrika ontdek is. Hule het eenvoudige werktuie gebruik en tussen 2,5 en 1,6 miljoen jaar gelede gelewe.
As die Dmanisi-fossiele 40 jaar gelede gevind was, sou hulle as Homo habilis geklassifiseer gewees het vanweë hulle klein breine, sê prof. Lordkipanidze. "Hulle wenkbrouriwwe is nie so dik soos dié van Homo erectus nie, maar hulle tande is meer soos dié van erectus."
"Al hierdie ontdekkings wys dat die voorouers van hierdie mense baie meer primitief was as wat ons geglo het. Ek dink nie ons is so gelukkig dat ons nou die eerste reisigers uit Afrika ontdek het nie. Georgië is die wieg van die eerste Europeërs, sou ek sê."
"Wat ons weet van die Dmanisi-fossiel is dat hulle redelik klein was – tussen 1,44 m tot 1,5 m lank. Wat interessant is omtrent hulle laer ledemate, die tibiabene, is baie menslik wat lyk asof hulle goed kon hardloop."
Oor die vraag of breingrootte of tweevoetigheid eerste was, kan hierdie 'n aanduiding wees dat liggamsanatomie belangriker as breingrootte is. Alhoewel die Dmanisi-mens baie modern in hul ligaamsverhoudinge was, goed kop loop en hardloop, het hulle arms ander beweeg en was hulle breine heelwat kleiner as ons s'n.
"Nietemin was hulle gesofistikeerde werktuigmakers met goeie sosiale en kognitiewe vaardighede.
Een van die vyf skedels het geen tande gehad nie, maar het nog vir jare daarsonder oorleef. Dit suggereer dat daar 'n sekere mate van sosiale organisasie bestaan het wat gegrond was op wedersydse sorg, het professor Lordkipanidze gesê.
