NALN: Kruip gaan nie help nie

ImageDie stryd rondom die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) is besig om te verhewig en ’n hele aantal skrywers en letterkundiges het reeds standpunt vir die behoud van NALN ingeneem.

Kommerwekkend is egter die kruiperigheid van sommige deelnemers aan die debat, soos Riana Scheepers en Charles Malan. Scheepers het ’n brief aan die anti-Afrikaanse burokraat in die Vrystaat geskryf wat vir die hele debakel verantwoordelik is, waarin sy probeer voorgee hoe polities korrek sy is deur geletterdheidsklasse vir Kaapse agtergeblewenes in Afrikaans aan te bied. Nogal met NALN se bystand. Asof Kaapse agtergeblewenes resensies oor die Jungiaanse element in Etienne Leroux se boeke gaan waardeer.

Van die burokrate wat nou in die Vrystaat oor NALN die septer swaai, beskik glo oor ’n standeragtkwalifikasie en lees geen woord Afrikaans nie. Watter indruk maak dit op hulle om, nadat hulle aggressief teen NALN begin optree het, kruiperige briefies van iemand soos Riana Scheepers te ontvang?

Charles Malan, wat voorheen hoof van SENSAL aan die RGN was, poog insgelyks om homself as ’n groot liefhebber van Xhosa voor te doen teenoor die agbare minister van kultuur, Pallo Jordan. Malan haal uit sy ope brief aan Jordan aan waarin hy sê:

“Ek en jy het in 1989 by die Victoria-waterval ontmoet toe ’n groep Afrikaanse skrywers met die verbode ANC gaan beraadslaag het. Ek was beïndruk met jou intellek, kultuursensitiwiteit en veral gematigde politieke standpunte. Jy was verbaas dat ek nie slegs van jou pa, die gevierde skrywer en taalheld AC Jordan, geweet het nie, maar inderdaad al in verskeie literatuuroorsigte oor hom geskryf het. Daarin is veral verwys na sy grootse roman, Ingquambo Yeminyanya, vertaal as The Wrath of the Ancestors, die viering van ’n trotse Xhosatradisie.”

Aan sowel Charles Malan en Riana Scheepers wil ek vra: dink u werklik dat Pallo Jordan genoegsaam beïndruk gaan wees met u liefde vir Xhosa dat hy reg teenoor Afrikaans gaan laat geskied? Indien ons oorkom as ruggraatlose mense wat, hoe harder jy op ons trap, hoe meer gaan ons by ons oorheersers flikflooi, kan ’n mens mos voorspel dat die huidige proses van anti-Afrikaanse verwoesting met naamsveranderings, vernietiging van monumente soos op Standerton en nou bose planne met NALN net gaan voortduur, nie waar nie?

Sedert 1994 is dit asof die kruipers onder die Afrikaners, wat voorheen so sterk onder die ou Nasionale Party en Broederbond gefigureer het, soos erdwurms na ’n goeie bui reën uit die grond gekruip het en oral om ons krioel. Waar het kruip ons ná dertien jaar van ANC-oorheersing gebring? Noem my ’n enkele geval waar die ANC positief op vertoë deur die kruiperkoor gereageer het en ek eet my hoed op.

As Riana Scheepers en Charles Malan werklik glo dat kruip die antwoord is, hoef hulle net ’n afspraak met Marthinus van Schalkwyk te maak wat die goeie woord by sy base sal gaan doen. Maar ons almal weet dat Van Schalkwyk geen snars omgee vir Afrikaans, NALN of die lot van Afrikaners nie.

Die Afrikanervolk – en dit sluit sy skrywers en letterkundiges in – moet besef dat ons in ’n oorlewingstryd gewikkel is. Net duidelike standpunte en moedige optrede gaan ons nou red.

Ons hoef nie Xhosa of Sotho by NALN te bewaar om sodoende ’n soort newe-reg op voortbestaan af te koop nie. Ons betaal ten minste R100 miljard per jaar aan belastings aan hierdie ANC-staat. Ons het die inhoud van NALN geskep, versamel en bewaar. Volgens alle norme, ook dié van die internasionale reg, is dit ons reg om ’n museum soos NALN te hê en na goeddunke te bedryf sonder ’n ANC-burokraat met standerd agt wat haar daarby inmeng.

Iewers sien ek ’n CD van jong Afrikaanse sangers wat sê: Genoeg is genoeg! Ons gaan nie langer agteroor buig of kruip nie. Ons vra ook nie om verskoning dat ons bestaan of dat ons voorouers die Afrikaanse kultuur geskep het nie.

Volgehoue protes en nie-gewelddadige versetaksies is nou nodig. Ruggraatloosheid en kruip is eenvoudig nie meer ’n opsie nie.

play casinoОлександр Васильович Фільчаков